Bybelse Dawid kry gestalte in laaste deel van trilogie

  • Online news resources
  • Jan 17, 2012
    Bybelse Dawid kry gestalte in laaste deel van trilogie

    Add-Life-produksies, die span agter die suksesvolle Ester die musical, wat vanjaar vol sale in die Staatsteater getrek het, het pas hul volgende projek vir 2012 aangekondig.

    Dawid die musical is aan die einde van Mei op die verhoog van die Opera in die Staatsteaterkompleks in Pretoria.

    Die gospelsanger Retief Burger speel die hoofrol in dié produksie, wat in ’n mediaverklaring die finale hoofstuk van Add-Life se trilogie van “gospelmusiekblyspele” genoem word.

    Die produksie fokus op die Bybelse Dawid se lewe en hoe hy van skaapwagter tot bekende digter-koning gevorder het.

    Renier Keyser van Add-Life is die regisseur. Hy en Lise-Marie Keyser was die skrywers. Frits de Groot skryf die liedjies en Matthys Maree is die musiekregisseur.

    Die speelvak begin op 29 Mei en duur tot 1 Julie.

    Ester die musical is in sy speelvak van 26 vertonings deur sowat 30 000 mense gesien. Die musiekspel keer later in 2012 terug vir ’n tweede speelvak van 4 tot 19 Augustus.

    Die verhaal van Dawid is in 1997 ook tot ’n musiekspel verwerk vir Tim Rice en Alan Menken se Broadway-produksie King David. Dié produksie word dikwels beskryf as ’n moderne oratorium en sluit musiek in wat wissel van pop tot jazz tot koorkomposisies.

    • Die vervaardigers van Ester het onlangs R120 000 aan die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) geskenk.

    -- Die Beeld